Rivier binnekort skoongemaak
Vir meer as drie maande al lê afgesaagde bloekombome soos lyke in die Klein Olifantsrivier en mense wonder wanneer hierdie area weer netjies gaan wees.
Die Werk vir Waterprojek het vroeg in Maart verwoesting kom saai toe hulle die reuse bloekombome afgesaag het.
Werk vir Water is al sedert die tagtigerjare besig om uitheemse bome uit te roei en die ou reuse langs die Klein Olifantsrivier was een van hul projekte.
Die gemors is egter net so gelos en inwoners begin mor dat hulle nou glad nie meer langs die Klein Olifants wil kuier nie, “want dit is ‘n totale gemors”.
Volgens me. Dalene Lambrechts (parkehoof) is dit een van hul volgende groot projekte wat aangepak gaan word.
Sy sê masjinerie moet gekry word om die bome uit die water te lig, waarna dit opgesaag en weggery sal word.
Sy sê hulle behoort binne die volgende maand met opruimingswerk te begin.



