Tannie Ans oorlede
Die welbekende en geliefde me. Ans Kruger (77) is Vrydagmiddag 27 Junie 2014 oorlede nadat sy 59 dae in die intensiewe eenheid van Een Militêre Hospitaal behandel is.
“Ma en Pa en is nou weer bymekaar,” het haar seun, Faan, gesê.
Me. Kruger het sowat vier maande gelede ‘n heupoperasie in dié hospitaal ondergaan.
Sy het nie behoorlik herstel nie en die operasie moes wéér twee maande gelede gedoen word.
Haar toestand het versleg nadat sy longontsteking ná die operasie opgedoen het en sy was tot met haar afsterwe in die intensiewe eenheid.
“Sy was ‘n liefdevolle mensie wat maar altyd doenig was met die koekblikke,” sê Faan.
Me. Kruger was baie bekend in die gemeenskap en was lief daarvoor om vir almal eetgoed en geskenkies aan te dra.
Sy het selfs gereeld vir joernaliste ‘n eetdingetjie aangebied.
Sy was vir jare die skakelbeampte by die Lenata VLU, waar sy tot en met haar operasie aktief aan die tak se werksaamhede deelgeneem het.
Me. Kruger en haar man, Louis, was ook baie betrokke by die Gereformeerde Kerk, waar hulle lank lidmate was. Mnr. Kruger is in September 2012 oorlede.
Me. Kruger word oorleef deur haar seun, Faan, skoondogter, Lindie, drie kleinkinders en een stiefkleinkind.
‘n Roudiens word Vrydag om 11:00 uit die Gereformeerde Kerk, Sentraal gemeente, gehou.



