Local newsNews

Pa sterf dae na dogter se geboorte

Net vyf dae na die geboorte van hul dogtertjie het mnr. Quintin Grobler in ’n gru-ongeluk in Slegtkampstraat gesterf.

“Ons meisiekind is Maandag gebore en Saterdag het Quintin gesterf. Hy was só bly oor haar, want ons het nie geweet dit is ’n dogtertjie tot die dag wat sy gebore is nie,” het me. Sonja Grobler hartseer gesê.

Mnr. Grobler het etlike minute ná die ongeluk, wat omstreeks 13:20 gebeur het, aan sy beserings beswyk.

In ’n Facebook-boodskap skryf me. Grobler: “Die lewe is so kort. Jou geliefde kan so vinnig van jou af weggevat word, dan het jy nie eers gegroet nie.

Die Grobler egpaar se twee seuntjies, Marnus (2) en Quintis (4).
Die Grobler egpaar se twee seuntjies, Marnus (2) en Quintis (4).

 

As ek net vroeër laat weet is van my man, kon ek hom beter groet, al was hy bewusteloos.

Wie weet, hy sou my dalk net kon hoor.” Mnr. Grobler het vir ’n paar minute nog asemgehaal, maar het gesterf terwyl daar vir sy lewe geveg is.

“Quintin sou nie Saterdag gaan werk het nie, maar hulle het hom gevra om in te gaan en hy het maar gaan werk.”

Sy onthou die laaste tydjie saam met haar man asof dit pas gebeur het.

Hy is nie Vrydag werk toe nie, aangesien hulle vir klein Margaret Elizabeth, wat haar man sommer “Meisiekind” genoem het, vir die eerste keer kliniek toe gevat en haar laat registreer.

Die foto wat sy van hom geneem het Vrydagaand sal sy altyd koester. Hy was besig om vir hul baba melk te gee en het met haar, so in sy arms, aan die slaap geraak. Sy het skelm ’n fototjie geneem van dié kosbare oomblikke.

Dié foto van mnr. en me. Quintin en Sonja Grobler het me. Grobler  “’n Selfie” genoem wat hulle onlangs geneem het.
Dié foto van mnr. en me. Quintin en Sonja Grobler het me. Grobler “’n Selfie” genoem wat hulle onlangs geneem het.

Die egpaar het twee seuntjies, onderskeidelik vier en twee jaar.

Oor hulle verrassingtjie sê sy: “Ons het nooit vir ’n sonar gegaan nie. Sy was net vyf dae oud toe haar pa dood is. Quintin het haar skaars geken!”

Sy begin saggies te huil as sy vertel dat hulle in die vyf dae vandat hul dogtertjie gebore is, nog nie tyd gehad het om ’n foto van hulle as gesin saam te neem nie.

Me. Grobler sê oor die ongeluk. “Iets fishy is aan die gang, ek weet nie wat gebeur het nie! Al wat ek weet is dat iemand gesê het dat hulle uitgeswaai het vir ’n hond.”

Die laaste foto wat sy ooit van haar man geneem het. Hy het Vrydagaand aan die slaap geraak terwyl hy hul babadogtertjie bottel gegee het.
Die laaste foto wat sy ooit van haar man geneem het. Hy het Vrydagaand aan die slaap geraak terwyl hy hul babadogtertjie bottel gegee het.

Me. Grobler het haar man beskryf as “’n wonderlike pa, wat altyd vriendelik en spontaan met almal was.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Sonja, kinders Quintis (vier jaar), Marnus (twee jaar) en Margaret Elizabeth, stiefseun Scott (14), sy pa, Braam, tweelingbroer, Morné, suster Jean en broer Wilhelm.

’n Roudiens is beplan vir  in Pretoria (waar mnr. Grobler se familie woonagtig is). Me. Grobler sê die helfte van haar man se as sal deur sy familie by Durban (waar hy grootgeword het) gestrooi word.

Die ander helfte sal sy by haar hou.

• Die Grobler-egpaar was op 2 Junie vier jaar getroud en mnr. Grobler sou op 26 Junie sy 34ste verjaardag gevier het.

• Mnr. Grobler het auto-elektrisiënswerk en motorwerktuigkundige werk gedoen by TC Conversions. Hy was saam met mnr. Stoffel Swart in die voertuig toe die ongeluk gebeur het.

Die voertuig het ’n boom getref en mnr. Grobler moes met die kake van lewe uit die voertuig gesny word.

Hy het gesterf terwyl paramedici van ER24 vir ’n geruime tyd vir sy lewe geveg het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button