Local newsNews

Tweede vrou aangehou

Terwyl 'n rower sy hand oor 'n vrou se gesig gehou het, het hy aanmekaar gesê "dat hy haar nié sal seermaak nie".

Slegs ses dae nadat die koevoetbende ‘n vrou in ‘n huis in Aerorand Wes aangehou het, het hulle ‘n tweede vrou in Gholfsig aangehou, terwyl hulle huisware gesteel het. Die vrou (wat uit vrees vir haar lewe anoniem wil bly) sê sy het verlede Donderdag nie soos gewoonlik vroeg gaan werk nie, maar besluit om bietjie later in te gaan omdat een van haar vriendinne verjaar het.

Omstreeks 10:00 het sy besluit om te gaan stort en was net besig om haar klere reg te sit om te gaan stort, toe sy ‘n harde kapgeluid hoor. Sy het aanvanklik gedink dit is haar wasmasjien omdat sy ‘n mat in die masjien gesit het.

Sekondes later het ‘n harder kapgeluid gevolg en sy het besef dat dit van die voordeur se kant af kom. Sy het deur die venster geloer en yskoud geword. ‘n Silwer BMW het in die oprit gestaan. “Ek het geweet daar is fout, want ek het vir niemand die hek oopgemaak nie!”

Sy het omgedraai om haar selfoon te vat om te bel vir hulp, toe sy byna in ‘n booswig vasloop. Volgens haar het hy merkbaar net so groot soos sy geskrik toe hy haar sien.

Die vrou het aanmekaar vir hom gegil om uit haar huis uit te gaan, maar hy het doodluiters op haar afgestorm en sy een hand (hy het handskoene gedra) oor haar gesig, neus en mond gehou.

Hy het vir haar gesis om op te hou skree en tussendeur ook beloof dat hy haar nie sal seermaak nie.

Met die handskoen oor haar oë kon sy niks sien nie en het besef dat daar ander rowers ook in die huis kon wees. Sy het pleitend aangebied dat sy haarself in een van die kamers toesluit en dan kan hulle vat wat hulle wil.

Hy het haar weer stilgemaak en na die slaapkamer gedwing terwyl hy aanmekaar in haar oor sis: “J`ewelry, TV!”

In die kamer het hy ‘n duvet van die bed afgepluk, bo-oor haar gegooi en haar gedwing om te gaan lê. “Hy het gesê hy sal vir my sê wanneer hy loop, dan kan ek uitkom. Hy het dit natuurlik nie gedoen nie!”

Nadat dit ‘n lang ruk stil was, het sy uit die kamer gegaan en agtergekom dat hulle nie haar selfoon gesteel het nie. Sy het dadelik hulp ontbied.

Die vrou sê sy is nie seker hoeveel inbrekers daar was nie, maar sy het wel stemme gehoor, wat ‘n aanduiding is dat daar meer as een was. Net soos in die vorige gevalle, het alles baie vinnig gebeur. Sy sê “alles was binne 10 minute verby!”

Van die ander slagoffers noem dit die “hit-and-run” koevoetbende.

• Me. Toy Korff is net ses dae vantevore in Selatistraat op soortgelyke wyse in die Van der Lindes se huis oorval (sy bly agter in die erf). Sy het die honde hoor blaf en het deur die venster gaan kyk wat aangaan. Die drie rowers was reeds besig om die deur af te breek en sy kon nie alarm maak nie.

Sy is in die huis rondgestamp en later in ‘n kamer met ‘n duvet oor haar kop laat lê. Hulle het haar in die kamer toegesluit en die deur moes later oopgebreek word om haar te bevry.

• Op 6 en 7 Junie is daar by ses huise ingebreek en het die naam “koevoetbende” gestalte gekry. Die Van der Lindes en Van Noordt-gesinne se huisdeure in Selatistraat is helder oordag met koevoete oopgebreek en die huise gestroop.

Daarna het hulle toegeslaan Saterdag in die vroeë oggendure op dr. Pieter Bothma se huis in Eeufeesstraat (Clubville) toegeslaan deur diefwering oop te breek. Hy het egter wakker geword en hulle het gevlug.

Sy pa, mnr. Hennie Bothma, bly agter hom in Hospitaalweg. Tussen 10:00-12:00 het hulle gaan rugby kyk en het die koevoetbende hul huisdeure oopgebreek en waardevolle artikels gebuit.

Die groep het oor middagete dieselfde dag ook me. Marie Godfrey se huisdeure oopgebreek in Leipoldtstraat (Gholfsig) en weggekom met ‘n televisie. ‘n Klein rukkie later wou hulle in dieselfde straat by die Sindisa Gastehuis inbreek, maar daar was iemand by die gastehuis en hulle het omgespring en weer oor die muur gevlug.

Vyf dae later het die groep toegeslaan by die vrou in Sangirostraat (Gholfsig).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button