Oud-skoolhoof was legende
Mnr. George Claassen (97), oud-skoolhoof van Hoërskool Middelburg en Comrades legende, is Dinsdagoggend in sy slaap oorlede.
Sy seun, Wynand, ‘n voormalige Springbok-rugbykaptein, het gesê dat sy pa sowat ses weke gelede ‘n beroerte gehad het “waarvan hy nie kon herstel nie, maar het rustig heengegaan.”
Mnr. Claassen was skoolhoof van Middies vanaf 1954 tot 1969.
In 1960 eindig hy derde in die Comrades en in 1961 is hy die Comrades-kampioen vanaf Pietermaritzburg na Durban. Hy was toe 44 jaar oud. Net ‘n dag later was hy terug op sy pos by die skool!
Mnr. Claassen het in 1977 op sestigjarige ouderdom sy laaste Comrades voltooi in ‘n tyd van 10:14.
Hy word oorleef deur sy seuns, Wynand, Danie en George (‘n oud-joernalis by die Middelburg Observer en nou ‘n wetenskap-joernalis), dogter Maryna Metelerkamp, 13 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.
‘n Diens word Maandagoggend om 11:00 uit die NG Kerk Bloubergstrand in die Kaap gehou.
Sy lewe het as volg verloop:
Gebore op Rusfontein, buite Wolmaransstad, 26 Februarie 1917
Laerskool – Plaasskool op Rietpan, Migdol-omgewing
Hoërskool – Afrikaans Hoër Seunskool, Pretoria (Affies) – matrikuleer op 16 in 1933
Studeer aan die Universiteit van Pretoria en Normaalkollege, Pretoria. Speel losskakel vir Tukkies O/19A vir drie jaar (1934-36). Speel eerstespan tennis vir NKP en is lid van die landloopspan.
Hou skool op Hoër Volkskool Heidelberg (einde 1940’s) en Hoërskool Wolmaransstad (vroeë 1950’s)
Begin skoolhou as vise-hoof by Hoërskool Middelburg in 1953 en word skoolhoof in 1954 na die afsterwe van Dr Blignaut. Is hoof van Middies tot einde 1969 toe hy Inspekteur van Onderwys word eers op Wolmaransstad en toe Lichtenburg.
Word in 1973 Hoof van die Transvaal se Onderwys-Keurraad in Pretoria tot sy aftrede in 1982.
Eindig derde in sy eerste Comrades Marathon in 1960 (en verbeter die rekord vir die vinnigste beginner). Wen die Peter Korkie-marathon asook die Comrades in 1961 op 44-jarige ouderdom. Kom sewende in die 1960 London-Brighton maar verbeter ook die vorige rekord. In 1962 verteenwoordig hy die SA Span teen die Britse span in die Comrades.
Hy en sy vrou Nella het gaan aftree op Bloubergstrand in 1987. (Sy is in 2009 op 90-jarige ouderdom oorlede)



