Sein-skelms ‘n SSK-pes
Die Observer het onlangs berig oor Nando's wat kostes aangegaan het om waarskuwingsborde te maak wat kliënte waarsku om seker te maak hul voertuie is gesluit, voordat hulle by die brandhoender restaurant ingaan.
Die area is berug vir diefstalle uit voertuie wat met sentrale sluitsisteme werk.
Skelms sit in die nabyheid met ‘n handkontrole wat die sein van die sentrale sluitmeganisme van motors blok en die motor nie laat sluit nie.
‘n Stapel bankkaarte en die lisensie van mnr. Frans Putter is die week by die Observer ingehandig, nadat dit twee Saterdae terug by Van’s Auto uit sy Fortuner gesteel is saam met sy beursie.
Mnr. Putter sê hy was hier saam met sy seuns en dié se maats vir die rugby teen Hoërskool Middelburg toe hulle na die wedstryd gou daar gaan stop het om die motorfietse te bewonder.
“‘n Man het skielik op ons afgestorm en gesê iemand het by my kar ingebreek,” sê mnr. Putter.
Die boef het natuurlik vinnig laat spaander toe mnr. Putter op hom afstorm en die massas by die taxi-staanplek langs Bread & More ingevlug.
Die polisie weier om enige statistieke, selfs geringe misdade soos dié tipe van opportunisme, bekend te maak.
Versekeringsmaatskkappye weier ook om enige eise sonder bewys van geforseerde toegang uit te betaal.
Inwoners mor veral oor ‘n groep mans wat motoriste om Nando’s intimideer.
Mnr. Putter sê hy is die blyste oor sy lisensie wat gevind is want om dié te vervang verg ure in ‘n tou en R300 wat kon gegaan het vir ‘n lekker braai na die rugby.
Mense word weereens gemaan om in die Sentrale Sakekern op hul hoede te wees vir die kontrole-bende wat toeslaan sodra inwoners hul konsentrasie vir net ‘n sekonde verslap.



