Local newsNews

Een klippie, groot rippels

Twee plaaslike vroue, Lydia du Preez en René de Villiers, het een klein klippie in die see van onsekerheid gegooi en vir tien meisietjies van huis 6 by die Middelburg Care Village, gaan die rippel effek van hul dade, ver in die toekoms nog by hulle uitkring.

Lydia en René is by hul Corpus Christi selgroep so deur pastoor Danie de Kock begeester om betrokke te raak by een liefdadigheidsaak dat hulle besluit het om die hele huis 6 oor te doen.

Aanvanklik het hulle net in die selgroep gevra vir bydraes en die sitkamer, eetkamer en kombuis se gordyne is vervang en breekware en eetgerei is voorsien.

Maar steeds was Lydia en René nie tevrede nie, en daar is besluit om die slaapkamers bietjie lewe te gee met nuwe gordyne en beddegoed.

Daar is nog ses kamers wat oorgedoen moet word en die vroue ryk nou uit na die dorp se gulhartiges om te help om die meisies se lewens bietjie op te kikker.

“Ons wil die plek so huislik as moontlik maak, elkeen van hulle is so spesiaal en het soveel om te gee, maar eers moet ons vir hulle die pad baan om hul volle potensiaal te bereik,” sê Lydia.

Sy las by dat die sitkamerbanke ook vodde is en die spons al by die armleuning uitpeul.

Stoffeerders wat bereid is om die banke te laat oortrek, of diegene wat ’n nuwe stel het om te skenk, word gevra om ook by die projek aan te sluit.

Die langtermyn doelwit sal wees om elk van die nege huise vir die kinders in ’n warm tuiste te omskep.

Daar is tans vyf huise vir meisies en vier vir seuns, en elk huisves tussen 10 en 12 kinders.

“Ons het die klein klippie gegooi en soek bakstene uit die gemeenskap om ’n tsunami van goeie wil oor dié spesiale kinders te laat spoel,” pleit René.

Kerke en ander organisasies word uitgedaag om in hul eie midde hand in die boesem te steek en te sien hoe die Care Village gehelp kan word.

Besighede en privaat skenkers kan ook ’n welkome verskil maak.

Naas die werk aan die huise, benodig die plek van toevlug klere, kos en toiletware.

Diegene wat wil bydra kan René by 079 939 4257, of Lydia by 082 829 7620 bel.

gerhard@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button