Local newsNews

Groblersdal budget

Besighede in Groblersdal kan maar hul deure sluit as die munisipaliteit sy 877% verhoging op eiendomsbelasting deurvoer.

Die belaglike verhoging is eenparig deur die ANC meerderheid in die raad tydens verlede Donderdag se spesiale begrotingsitting in die raad deur gestoomroller ten spyte van luide teenkanting uit DA geledere.

Die DA se Johan Kotzé het reeds die party se skriftelike besware teen dié astronomiese stygings by die burgemeester ingedien.

Soos sake nou op swart en wit staan, sal besighede met ’n huidige belastingbydrae van R595 nou R5800 betaal en groter besighede met ’n huidige belastingbydrae van R16 700 in die toekoms R163 000 betaal.

“Dit is net eenvoudig onmoontlik en besigheidseienaars, staatsinstansies en myne gaan sink,” waarsku Kotze.

Hy sê die begroting van R280 miljoen, sedert die aangepaste begroting van die vorige boekjaar, met R30 miljoen gestyg het.

’n Allemintige R51 miljoen van provinsiale toelae is nié by die begroting ingereken nie.

Die operasionele begroting beloop R291 miljoen geweeg teen ’n projekbegroting van R77 miljoen, waarvan 66% deur die provinsie en nasionale tessourie gefinansier word.

Die inkomste en uitgawe syfers oor tien maande klop tot op die sent met die goedgekeurde begroting en dié ongewone syferspel, bekommer die DA wat tot op hede nog geen inkomste en uitgawe state uit die administrasie kon kry nie.

As die DA, wat ’n belangrike oorsigsrol in die raad speel so sukkel, hoeveel te meer gaan Jan en alleman die munisipaliteit dwing om deursigtig te wees met reeds kommerwekkende finansiële bestuur.

Alle tariefverhogings, behalwe waterdienste wat nie meer onder munisipale bestuur is nie, is inflasiegekoppel wat inwoners se hartkloppings dalk ietwat sal kalmeer.

Raadslede is die 11-bladsy raadsagenda, wat die tariefverhoging uitstippel, eers tien minute voor die vergadering in die hand gestop. Die DA dring egter aan dat die eiendomsbelasting stygings vir besighede, staatsinstellings en mynbedrywe ook in die inflasie teiken gehou word en oorweeg verdere stappe teen die munisipaliteit indien daar nie gehoor gegee word aan die party en besighede se vrese nie.

Op ’n goeie noot, het die raad besluit om regsaksie teen die ingenieur wat Kanaallaan ontwerp het in te stel.

Daar is voorsiening in die begroting gemaak om dié problematiese pad in geheel oor te bou en kostes van die kontrakteur, wat aangestel is maar weggeloop het, te verhaal.

Voortaan sal die raad eksklusief gebruik maak van ingenieurs en kontrakteurs wat by die Vereniging van Raadgewende Ingenieurs geregistreer is.

Volgens die begroting verhoog water en riool onderskeidelik met 10% en 13% terwyl inwoners 7% meer vir krag en 6% meer vir vullisverwydering sal opdok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button