Opvolg: AfriForum help boer
Mnr. Martin Coetzee, die bejaarde boer wat op sy plaas buite Belfast aangerand en vasgebind is deur plakkers, gaan deur Afriforum bygestaan word.
Mnr. Charl Oberholzer (kommunikasiebestuurder, Afriforum) het bevestig dat die 82-jarige mnr. Coetzee AfriForum genader het. “Ons gaan beslis kyk hoe ons hom kan bystaan. Ons het hom gehelp om ’n volledige verklaring af te lê en is besig om met ons regs- en ondersoekspan te konsulteer oor die voorval.”
Mnr. Coetzee is verlede Maandag op die plaas Suikerboskop (tussen Belfast en Stoffberg in die Leeuklip-omgewing) met ’n stuk hout aangerand en vasgebind.
Hy het vertel dat hy en sy kleinseun, Petrus (21), ’n aflos-metode gebruik op die plaas. As Petrus vir sy familie in Pretoria gaan kuier, gaan bly sy oupa (wat nou self woonagtig is in Pretoria) op die plaas om die diere te versorg.
Mnr. Coetzee was vir ’n week op die plaas en het omstreeks 09:30 gery.
Toe hy by die ou plaashuis verbyry, was hy hewig ontsteld toe hy opmerk in watter toestand die huis was. Gedeeltes van die dak is weggedra en selfs die plafonne is uitgeruk.
Omdat daar plakkers is wat baie naby aan die huis bly, het hy hulle gevra of hulle nie iets gesien het nie.
Een van die plakkers het sonder rede op hom afgestorm en hom met ’n stuk hout oor die kop, arms en bene geslaan. Met die hulp van vrouens in die huis, het hulle ook sy hande vasgemaak.
Mnr. Coetzee sê die mense het iemand gebel om soontoe te kom en hy het uit hul deurmekaar pratery agtergekom dat hulle onder andere gesê het dat hulle die “plaas gaan vat”.
Mnr. Coetzee het later teruggejaag huistoe.
Lees vorige berig hier:
Weens die gebeure is die familie bang om terug te keer na die plaas.
Mnr. Coetzee het egter aangedui dat hy sal moet teruggaan om die skape te versorg.



