En soos die letterlike bynes wat oopgekrap is toe die graffies in die Kanonkop konsentrasiekamp begraafplaas wit geverf is, zoem die bye onder historikuste, ontwikkelaars en regeringsamptenare oor die moontlikheid van meer grafte.
“Aan die noorde is ‘n stapel klippe. Dit is ‘n swart begraafplaas, die enigste swart begraafplaas binne loopafstand van ‘n witte” – lui ‘n stukkie geskiedkundige pitkos in die Gables News, ‘n pamflet van die gedenkwaardige Gables, een van Middelburg se oudste huise.’n Bewering wat tot nou toe ongetoets as hoorsê afgemaak word.
As die Anglo geskiedenis jou boei, dan vat jy die aflosstokkie soos Yolandi van Rooyen en Corine de Jonge, en hardloop met hom om verdere verwoesting van kultuurskatte te voorkom.
Die SA Erfenisse Hulpbronne Agentskap (Sahra) is die volgende oorgee, en dié bewaringsagentskap, wat twee weke gelede ‘n terreinbesoek kom doen het, oorweeg nou ‘n deeglike argeologiese ondersoek van die terrein, onderhandelinge met die munisipaliteit, departement van kuns en kultuur en provinsiale erfenisse bestuur. Daar was tydens Sahra se terreinbesoek sprake van hewige boetes wat opgelê kan word as hoeke gesny is met ontwikkeling.
‘n Ontwikkelaar het instemmend geknik oor die moontlikheid van nog grafte.
Yolandi en Corine vermoed “dat daar veel meer as 287 grafte in die wit begraafplaas alleen lê”, sou hulle navorsing korrek wees.
Die konsentrasiekamp is in Oktober 1901 van Groenkol geskuif Kanonkop toe, en die 15-jarige Elizabeth Margaretha Christina Minnaar, is eerste daar begrawe.
Yolandi sê volgens rekords korreleer die grafte wat daarna gegrawe is volgens sterftedatums in Briste konsentrasiekamprekords.
Haar nagevorsde dodetal staan egter al op meer as 470, en dit is nog net van A tot S in die Britse rekords wat sy nagaan.
Yolandi het voorts ‘n lys van 600 name, meestal aangedui as “onbekend” en sy vermoed minstens ‘n derde van dié grafte, lê onversteurd onder die grond van ‘n naburige erf.
Die erf waarop Yolandi en Corine vermoed meer as 200 ander grafte lê, is onlangs vir R1,8 miljoen op ‘n veiling van die hand gesit.
Die eienaar, wat tans by familie in Holland kuier, het egter reeds skriftelik by die munisipaliteit aangedring dat sy geld terugbetaal word omdat hy, sou daar ongemerkte grafte wees, geensins op die erf sal kan ontwikkel nie.
Die erfnommer is ook dieselfde as dié van die bestaande begraafplaas én parkie en is boonop gebruik deur ontwikkelaars as stortingsterrein.
Die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, het bevestig dat die koper van die erf nie die kansellasie van die koopkontrak teenstaan nie.
Die munisipaliteit sal eersdaags met Sahra vergader oor hoe die ondersoek gedoen sal word.
“Ons sal moet seker maak,” sê mnr. Fouché.
gerhard@mobserver.co.za



