BlogsEditor's noteLocal newsMunicipalNewsOpinion

My Beurt

Aangename kennis, my naam is Bloe.

Aangename kennis, my naam is Bloe.

Nee man, nie Elvis Bloe nie!

Dis Bloe Kom.

Vir honderd jaar langs die Klein Olifantsrivier opgegroei.

Kan nog goed onthou hoe Oom Piet Tuine van die dorpsraad my daar geplant het. Ek was die eerste een, daarna het ons so op ’n ry ons staan gekry.

Lekker jare gewees.

Kan vir julle stories vertel wat julle sal laat lag en huil.

Maar veral laat huil.

Somtyds het ’n otter hier onder my wortels in die water gespeel.

Wanneer die rivier afgekom het, het snaakse goed hier aan my bas kom kielie.

Partykeer het ’n dronk ou sy roes kom afslaap langs ons.

Van die wit karretjie wat gereeld hier gestop het kan ek nie uitpraat nie, is seker daai twee was getroud, want sulke goed kan jy mos in jou eie dubbelbed doen?

Wanneer ek die gedreun van ’n vinnige kar of motorfiets in Coetzeestraat gehoor het, was ek die eerste wat uitgeroep het: “Pasop!”

Dit het partykeer nie gehelp nie.

Soos die kar wat om my gevou het.

Later het mense so gehuil dat my voete nat was. Hulle het ’n kruisie daar neergesit.

Een aand het ’n motorfiets teen my vasgejaag.

Honderd jaar in die lewe maak mens gehard en ek het oorleef, maar nie die motorfietsryer nie.

Later het ’n polisieman gekom en PVB op my geverf. Later gehoor dit staan vir Punt Van Botsing.

Die hartseerste dag in die Bloe Kom familie se geskiedenis was toe die regering se mense opgedaag het. Hulle word “Werk vir Water” genoem.

Gekla dat ons te veel van die rivier se water drink.

Het geprotesteer. “Hoe kan ons nou die rivier leeg drink? Het dit nie in honderd jaar gedoen nie”.

Gevra: “Gaan kyk eerder hoe drink steenkoolmyne die rivier leeg”.

Maar hulle het net gelag en my bas begin afkap, stukkie vir stukkie. Later het hulle gif aangesmeer. Ons het geskreeu: “Help! Help”

Niemand het geluister nie.

Gif laat jou stadig doodgaan.

Ons het terugbaklei en weer groen blaartjies uitgestoot.

Maar toe kom ouens met ’n groot saag.

Nou is ons net stompies.

Besig om ons laaste asem uit te blaas.

Totsiens Middelburg.

Dankie dat ek honderd jaar deel van julle kon wees.

Van oorlede Bloe Kom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button