Genadeloos met pangas gekap
Die egpaar is steeds in die Middelburg Hospitaal waar hulle vir diep wonde en breuke behandel word. ‘n Mens kan byna nie hoor wat me. Katriena Fourie (46) sê tussen die snikke deur nie. Terwyl bloed uit diep wonde aan haar arms, maag en bors gestroom het, het sy by een van haar aanvallers gepleit: …
Die egpaar is steeds in die Middelburg Hospitaal waar hulle vir diep wonde en breuke behandel word.
‘n Mens kan byna nie hoor wat me. Katriena Fourie (46) sê tussen die snikke deur nie.
Terwyl bloed uit diep wonde aan haar arms, maag en bors gestroom het, het sy by een van haar aanvallers gepleit: “Vat alles asseblief, los ons net uit.
Sy onthou elke sekonde van die gebeure asof dit maar net minute gelede gebeur het.
Me. Fourie sê hulle is kort na 01:00 Vrydag gewek met ‘n skerp reuk by hul Pienaardam woonplek “soos iets wat brand. Dit was so erg dat ons begin opgooi het.”
Hulle vermoed daar is iets deur ‘n venster of onder ‘n deur in die huis ingespuit.
Daar is net een deur wat toegang bied tot die huis en sy het die deur oopgemaak sodat hulle vars lug kon kry.
“Die volgende oomblik het die ses by die deur ingestorm en vir my gesê: “Stop screaming.”
Die rowers het hulle eerste toegespits op me. Fourie se vriend, mnr. Deon van der Merwe.
Me. Fourie het toegekyk hoe hulle hom met die panga op die bobeen- en aan die agterkant van die been kap, waarna een van die ander aanvallers “hom met ‘n vier pond hamer voor die kop geslaan het. Die ander het hom ook geslaan en Deon het sy bewussyn verloor. Ek het gevra hulle moet asseblief ophou, want hulle gaan hom doodslaan, waarop hulle my begin kap het met die pangas.”
Me. Fourie is oor die bors, arms, hand, maag en oor haar blad met die pangas gekap.
Een van die booswigte het haar na die kamer gesleep en op die bed neergesmyt.
“Hy het begin om met sy broek te peuter en ek het gedink hy gaan my verkrag. Ek het gepleit en gevra, asseblief, vat alles, die geld die meubels, maar los ons asseblief net uit.”
Hierna het hy me. Fourie aan die hare beetgekry en haar in die hoek van die kamer neergegooi.
Hy het haar beveel om die beursie vir hom te soek en sy het dit vir hom gegee. Daarna het hy haar nog ‘n keer met die panga gekap en geskreeu: “Stay where you are!”
Die rowers het ook twee selfone gevat, die huis van buite gesluit en geepad.
Terwyl sy haar eie gapende wonde probeer toedruk, het sy paniekerig gehardloop na waar mnr. Van der Merwe op die grond gelê het.
“Hy was steeds bewusteloos en ek het aanvanklik gedink hy is dood.”
Nadat mnr. Van der Merwe bygekom het, het die egpaar agtergekom dat die rowers gelukkig een van die selfone nie gekry het nie en hulle het begin rondbel vir hulp.
Hulle kon nie dadelik die polisie op Middelburg in die hande kry nie en het een van hul vriende op eMalahleni gebel. Hy het op sy beurt mnr. Gerrie Gerrits, eienaar van Pienaardam, gekontak.
Mnr. Gerrits en sy twee skoonseuns het die huis se deur oopgebreek om die egpaar te hulp te snel.
Volgens me. Fourie was hul vriende en die polisie van eMalahleni kort daarna op die toneel, waarna die polisie van Middelburg en die nooddienste ook opgedaag het.

Die egpaar is in die Middelburg Hospitaal opgeneem waar die gapende wonde met steke geheg is. Buiten die kapwonde, het mnr. Van der Merwe skedelbreuk opgedoen en me. Fourie het ‘n gebreekte rib en arm, asook gekraakte borsbeen.
Daar is aan die Observer genoem dat mnr. Van der Merwe Zoeloe verstaan, maar dat die rowers in ‘n vreemde taal gepraat het wat hy nie kon verstaan nie. Die vermoede bestaan dat hulle moontlik Mosambiekers kon wees.
Kort na sonsopkoms Vrydag is daar gevind dat die rowers toegang gekry het tot Pienaardam oor die buurgrond vanaf Vaalbank se kant af en dat die wildsheining geknip is. Daarna het hulle by die hek van die huis, wat sy eie heining het, ingegaan.
•Die egpaar was teen druktyd nog in die Middelburg Hospitaal en me. Fourie se dogter, Marie, het aangedui dat sy hulle wil laat oorplaas na Mokopane (Potgieterus) sodat hulle ná hospitalisasie by haar kan gaan aansterk.
•Hulle wil graag vir Marius en Shaun Botha bedank vir hul blitsige optrede, asook al die polisielede, paramedici en Pienaardam se personeel.
Dank gaan ook aan die Boere Krisis Aksie vir hul hulp by die hospitaal.
daleen@mobserver.co.za





















